Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 27 Januarie 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het, Hulle is die van:
Les Smith, ZS1GR, op Saterdag 5 Januarie weens 'n massiewe beroerteaanval, en
Hein Frohnapfel, ZS6HFJ, lid van die Noordwes Amateurradioklub op Vrydag 25 Januarie.

Ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die afgestorwenes.

(POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

HERAANSOEK VIR AMATEURLISENSIES

KLUBS EN HF ASSESSORS MOET SO GOU MOONTLIK VIR DIE MEI RAE REGISTREER

ADF KRY 'n GROOT HUPSTOOT

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

HERAANSOEK VIR AMATEURLISENSIES

In 'n Staatskoerant onlangs uitgegee verskyn die vereistes van OKOSA dat elke radioamateur voor 25 Januarie 2013 ‘n heraansoek vir vernuwing van sy of haar lisensie moet doen. Die SARL het 'n vereenvoudigde aansoekvorm, wat deur OKOSA goedgekeur is, opgestel. Dit is beskikbaar op www.sarl.org.za. Indien u die sperdatum gemis het, kan die vorm nog steeds voltooi en aan OKOSA per pos of e-pos gestuur word. Vul ook die deel vir laat aansoek in en skryf as rede "Nie bewus gewees van die vereiste om vir my amateurlisensie heraansoek te doen nie"

Geen fooie of nuwe eksamens word vereis nie. Vul die vorm in, skandeer dit en stuur dit per e-pos of gewone pos aan OKOSA. Die SARL se webtuiste het volle besonderhede van die pos- en e-posadresse. Daar is ook 'n riglyn oor hoe om die vorm te voltooi.

KLUBS EN HF ASSESSORS MOET SO GOU MOONTLIK VIR DIE MEI RAE REGISTREER

Die SARL se RAE-bestuurder, Gideon Jannasch, ZS4GJA, het verlede week die besonderhede van die 2013 RAE aangekondig. Die Mei-eksamen sal gehou word op 16 Mei 2013 en die Oktobereksamen op 17 Oktober 2013. Klubs wat 'n eksamensentrum wil bestuur, moet die aansoekvorm so gou moontlik voltooi en aan rae@sarl.org.za stuur. HF-assessors moet ook so gou as moontlik registreer.

Volledige besonderhede en al die vorms is beskikbaar op die SARL se webtuiste onder lisensiëring. Kies die RAE Administrasieknoppie.

'n Nuwe studiegids oor regulasies is ook beskikbaar wat 'n opsomming van al die regulasies met betrekking tot amateurradio bevat. Enige vrae rakende die RAE moet aan Gideon na rae@sarl.org.za gestuur word.

ADF KRY 'n GROOT HUPSTOOT

Hierdie week het die SARL Antennaverdedigingsfonds tot R37 100 nader aan die R50 000-teiken toegeneem. Om 'n lys van donateurs te sien en uit te vind hoe om jou naam en skenking by te voeg, besoek www.sarl.org.za en kies Antenna Defence Fund van die spyskaart aan die linkerkant. Die afgelope week het die Secunda Amateurradioklub 'n aansienlike skenking gemaak. Ons eerste bydrae uit die nywerheid was 'n donasie van R6 000 deur Radio Accessories & Data Modems. Sam Ford en al die ander skenkers, die SARL waardeer u ondersteuning.

SA AMSAT, OPROEP VIR REFERATE

Teen die einde van verlede jaar het SA AMSAT die eerste oproep gemaak vir referate vir die 2013 SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM wat op 18 Mei 2013 in die Innovation Hub in Pretoria gehou sal word. Die tema van die konferensie is "Ruimte - 'n uitdagende Amateurradiogrens".

Indien jy beplan om 'n referaat te lewer, stuur asseblief 'n kort opsomming van die voorgestelde verhandeling teen 31 Januarie aan saamsat@intekom.co.za. Vir meer inligting, besoek www.amsatsa.org.za.

AMERIKAANSE PADVINDERS KRY SPESIALE KENTEKEN AS HULLE RADIOAMATEURs IS

Die Nasionale Boy Scouts van Amerika, afgekort BSA, erken nou jeugdige of volwassene wat 'n amateurradiolisensie het met 'n spesiale kenteken wat op die uniform vertoon kan word. Die kenteken, in die vorm van 'n strook, het die woorde: "Amateur Radio Operator" daarop.

Jim Wilson, K5ND, is die BSA se direkteur van kommunikasiedienste, maar in die amateurgemeenskap bekend as voorsitter van die nasionale Radio-Padvinderkomitee en organiseerder van die nasionale Jamboree op die Lug, sę dat die erkenning kom uit gesprekke wat 'n paar maande gelede begin is met die padvinderkomitee wat toekennings en kentekens vir die scoutuniform kies. Hy sę navorsing toon amateurradio deur die padvinders so vroeg as die 1940's erken is. Teen die tyd van die skryf van SARLNUUS kon dit nie bevestig word of daar so 'n erkenning vir Suid-Afrikaanse Scouts en Girl Guides en Voortrekkers is nie, maar dit is die moeite werd om na aanleiding daarvan deur die betrokkenes op gevolg te word.

MOSIES VIR DIE SARL ALGEMENE JAARVERGADERING

Die sluitingsdatum vir die indiening van mosies en items vir bespreking by die SARL se Algemene Jaarvergadering is 31 Januarie 2013. 'n Mosie moet 'n volledige motivering insluit en moet onderteken word deur 'n voorsteller en sekondant wat albei lede van die Suid-Afrikaanse Radioliga is. Die adres vir items per e-pos vir die AJV-agenda is secretary@sarl.org.za.

WAYNE MILLS, N7NG, CQ-MAGAZINE AS DX-REDAKTEUR AANGESTEL

Bekende DXer, DXpedisioneerder en Kompeteerder, Wayne Mills, N7NG, van Jackson, Wyoming, is as CQ-tydskrif se nuwe DX-redakteur aangestel.

Reeds in 1953 op die ouderdom van 11 gelisensieer, het Mills in 1956 met DX-werking begin en sy eerste DXpedisie in 1985 meegemaak. Hy was lid van die Zed-A-1-A span wat weer amateurradio in 1991 in Albanië begin het, en ook die werking daarvan in die nuut onafhanklike Republiek van Kosovo in 2008 begin het.

Van 2000 tot 2007, was Mills bestuurder van die ARRL se Lidmaatskap Dienste-afdeling en het aan die ontwikkeling van die elektroniese bevestigingstelsel Log-van-die-Węreld gewerk. Hy het ook verskeie kompetisierekords oor die jare opgestel, maar sę hy beskou homself baie meer 'n DXer as 'n kompeteerder.

N7NG sal begin met die skryf van die CQ DX-kolom in die tydskrif se April 2013 uitgawe. Mills wat in die CQ DX Hall of Fame 'n 1999 ingehuldig is, was volg Carl Smith, N4AA, op, wat na 13 jaar van die skryf van die tydskrif se DX kolom uitgetree.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom 7 radioamateurs wat as lede by ons organisasie aangesluit het. Ons vertrou dat hulle n lang en gelukkige verbintenis met dei SARL sal geniet. Hulle is:
Peter Scott - ZR1KW
Leon Uys - ZS6ALU
Jacques Swanepoel - ZS6WDL
Machael Castelyn - ZS6BML
David Schofield - ZS6DOG
Mev J Snyman - ZS6JAQ
CC Mc Kenzie - ZS6AUF
Charles Derel van der Spuy Louw - ZR1ABA

Die SARL se ledetal is tans 1674

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot baie laag gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is tans stabiel.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 47.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan smiddae oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
20 Januarie – Laaste dag van PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie.
26 Januarie - SARL Somer QRP-kompetisie 12:00 tot 15:00 UTC.
31 Januarie – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.
31 Januarie - Laaste dag vir indiening van 'n verkorte resume van 'n beoogde aanbieding vir SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM op 18 Mei 2013 na saamsat@sarl.org.za.
31 Januarie – Laaste dag vir indiening van aansoeke vir n SAARDT-beurs vir RAE-studente, besonderhede by www.amateurradio.org.za.
2-3 Februarie - AWA se GG-aktiwiteitsdae.
9-10 Februarie - SARL se Nasionale Velddae.
23 Februarie – SARL se Jeugnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT en 'n spesiale gebeurtenis beginnende om 09:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geďnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL-NUUSSPAN wens al ons luisteraars en intekenare 'n voorspoedige nuwe jaar toe.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Richard Peer, ZS6UK, en George Honiball, ZS6NE, wat ook die bulletin saamgestel en geredigeer het.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003